Zuid Afrika - South Africa
'n Waarlik merkwaardige neseier
25/03/2004 16:19 - (SA)
Auteur: Stephan Welz
In 1883 aanvaar tsaar Alexander III 'n voorstel van die beroemde Russiese goudsmid en juwelier Carl Fabergé dat hy as Paasgeskenk vir die tsarina Marie 'n baie besondere juweeleier laat maak.
Die goue eier wat Fabergé persoonlik 'n dag voor die Pase in 1884 by die paleis afgelewer het, het die tsaar só beïndruk dat dit 'n jaarlikse instelling geword het wat deur sy seun tsaar Nicholas II voortgesit is.
Die eier was bedek met wit emalje. Binne is 'n eiergeel van goud wat ook kan oopmaak. Daarin is 'n hoender van verskillende kleure emalje met binne in 'n model van die imperiale kroon. In die kroon hang 'n klein robyneier.
Tsaar Nicholas II het jaarliks twee eiers laat maak, een vir sy vrou, tsarina Alexandra, en een vir die koningsmoeder, Marie.
Selfs toe Rusland in die Eerste Wêreldoorlog teen Duitsland geveg het en Nicholas aan die front was, is twee Paaseiers deur Fabergé by die tsarinas afgelewer. Ontwerp as simbool van oorlog en swaarkry, was hierdie laaste eiers baie eenvoudiger en sonder juwele. Die een was byvoorbeeld van wit emalje, versier met twee rooi kruise en die woorde " 'n groter liefde het geen mens as dat hy sy lewe vir sy naaste neerlê nie" daarop.
Die Russiese Revolusie het alles egter wél tot 'n einde gebring. Teen die tyd dat die 1917-Paaseiers afgelewer moes word, was die imperiale gesin reeds gevangenes van die Bolsjewiste, wagtend op hul aaklige teregstelling, en niemand weet wat van dié eiers geword het nie.
Die aantal imperiale Paaseiers wat Fabergé gemaak het, word op net oor die 50 bereken - elkeen uniek in ontwerp, versiering en inhoud. Ná die Revolusie is dit oor die wêreld heen versprei. Baie is deur die Bolsjewiste verkoop om geld te bekom.
Met sy verbeeldingrykheid, weelderige uitvoering en vakmanskap het Fabergé die juweliers- en goudsmidkuns weer hoogtes laat bereik wat laas in die Renaissance gesien is. In 1900 is van die Paaseiers wat vir die tsaars gemaak is, vir die eerste keer aan die publiek gewys op die wêreld-tentoonstelling in Parys. Daar was almal gaande oor Fabergé se werk, en veral die Paaseiers het beïndruk. Nie net het hy verskeie eerbewyse ontvang nie, maar hy het feitlik oornag beroemdheid in Europa verwerf. Deur die jare het Fabergé 'n towenaar gebly wat betref juweliersware en die dekoratiewe kunste.
Dat sy werk vandag nog uiters gesog is, is verlede maand bewys toe die Russiese oliemiljardêr Viktor Vekselberg die Forbes Fabergé-versameling vir 'n geraamde $100 miljoen gekoop het.
Malcolm S. Forbes, die voormalige uitgewer en redakteur van Forbes Magazine , het in die jare sestig begin om Fabergé te versamel en het aangehou tot met sy dood in 1990. Só het hy nege van die imperiale Paaseiers bekom sowel as 180 ander werke van Fabergé. Die Forbes-versameling Paaseiers is die grootste naas dié van die Kremlin, wat tien besit.
Verlede jaar het Forbes se drie kinders besluit om die versameling te verkoop en Sotheby's is opdrag gegee om dit in New York op te veil. Die veiling sou in April plaasgevind het, maar toe Vekselberg dit te hore kom, het hy begin onderhandel om die versameling in sy geheel voor die tyd te koop.
Vir hom was dit 'n unieke geleentheid om sy land se hooggeagte skatte terug te besorg. Sy aanbod, geskat op nie minder as $100 miljoen nie en boonop omgeef deur 'n aura van patriotisme en romantiek, was van só 'n aard dat nòg die Forbes-familie nòg Sotheby's dit van die hand kon wys en die veiling is gekanselleer.
Ná 'n kort uitstalling in New York sal die versameling teruggeneem word na Rusland, waar dit mettertyd vir die publiek oopgestel sal word.
Dié transaksie wys hoe ekonomiese welvaart en politieke bestendigheid verseker dat 'n land nie net sy kunskatte behou nie, maar dít wat verlore gegaan het, kan terugkry.***